Opleiding vir Pilates-instrukteurs met ‘n wetenskaplike grondslag
31 January 2009 - Posted by James Raaff in In the press, News
Baie mense wat werk in die reuse en vinnig groeiende gesondheids- en fiksheidsbedryf, soos persoonlike afrigters, fiksheidsinstrukteurs, dansleermeesters, breiers en atletiekafrigters, beskou Pilates as die natuurlike keuse vir ’n kompeterende voorsprong. Dit geld ook vir instrukteurs wat op soek is na ’n oefenmetode wat anders en effektief is, volgens James Raaff, ’n biokinetikus wat vir die afgelope sewe jaar Pilates-instrukteurs oplei.
Waar ’n Nasionale Fiksheidsertifikaat vereis word om in die fiksheidsbedryf in Suid-Afrika te werk, is Pilates-onderrig – wat relatief nuut in die land is – nog ongereguleer, dui Raaff aan. Gevolglik kan dit aangebied word deur instrukteurs wat slegs ’n kort opleidingswerkswinkel voltooi het en geen vorige ervaring van die aanbieding van hierdie oefenmetode het nie. Maar Pilates – ’n bewegingsmetode en beginselgegronde manier om ’n gesonde liggamshouding aan te leer – vereis inderdaad ’n deeglike kennis van die menslike anatomie en fisiologie en begrip van die invloed van oefening op die mens.
Deur middel van sy besigheid, James Raaff and Associates (JRA), stel Raaff en sy span hoë standaarde vir professionele instrukteurs om sodoende instrukteurs in staat te stel om aan hul kliënte en pasiënte Pilates op sy beste te bied vir ’n sterk en ’n gesonde liggaam en gees. “In ons kursusse leer ons instrukteurs wat binne-in die liggaam aangaan; ons verander hulle denkwyse en die manier waarop hulle kliënte benader om die verlangde verandering teweeg te bring. As hulle verstaan wat gebeur op ’n wetenskaplike vlak, kan hulle dit beter doen.”
Met die fokus op tegnieke (soos ontwikkel uit die oorspronklike werk van Joseph Pilates), het Raaff se maatskappy kennis uit verskeie dissiplines by hul kursus geintegreer om die kennis van die Pilates-metode te verhoog asook die wye reeks gebruike van die tegniek. “Ons filosofie word gesteun deur die nuutste benadering tot die probleem van tekorte in motoriese beheer. Om dit eenvoudig te stel, ons pas die wetenskap toe om die bewegingspatrone vir optimale fisiese gesondheid aan te leer.”
Raaff glo die insluiting van Pilates in enige oefenprogram kan verreikende resultate in die kondisionering vir sportprestasie, rehabilitasie en herstel hê. “Algemene gesondheid en fiksheid word ook tot ’n groot mate verhoog. Pilates ontwikkel ’n funksionele balans tussen krag, sterkte, uithouvermoë, soepelheid , koördinasie, balans, ratsheid en spoed – bekend as biomotoriese vaardighede – om ’n liggaam te skep wat met gemak en grasie beweeg.”
Om te verseker dat instrukteurs op ’n hoë vlak kan leer , is die toelatingsvereiste vir alle JRA-kursusse ’n erkende sertifikaat, diploma of graad in basiese gesondheid- of fisksheidstudies. Raaff sê sy maatskappy werk nou saam met die Exercise Teachers Academy (eta) en internasionale Pilates-institute om dit vir enige student moontlik te maak om ’n Pilates-instrukteur te word. “Enige iemand wat ’n basiese gesondheid- en fiksheidsopleiding verlang, kan by eta begin en daarna vorder na die ontwikkeling van Pilates-vaardighede. eta is ’n erkende leier op die gebied van leefstyl, fiksheid en sportafrigtingsopleiding, en bied nasionaal geakkrediteerde sertifikate en diplomas in verskeie dissiplines.”
Hy sê die spesifieke vaardighede wat Pilates-instrukteurs benodig, hou verband met die volgende: assessering van die kliënt se behoeftes, die beginsels van Pilates-oefening, mat- en toerustingoefeninge en wysigings, asook beplanning en programopstelling vir kliënte met spesiale behoeftes. Hierdie vaardighede word geleidelik aangeleer en ook verder aangevul gedurende die modules van die Pilates-opleidingskursusse wat sy maatskappy aanbied. Modules raak progressief meer gevorderd.
“Selfs dokters, biokinetici en fisioterapeute, met jare van mediese studie aan ’n universiteit, moet gelei word in die spesifieke toepassing van anatomie kennis wat deur ’n Pilates-instrukteur vereis word. Studente leer ook die biomeganika en fisika wat Pilates-instrukteurs moet verstaan.”
Raaff sê dat, alhoewel JRA nie diagnostiese vaardighede doseer nie, gegradueerdes die vaardighede moet hê om te kan bepaal wanneer ’n kliënt wat rehabilitase benodig na ’n fisioterapeut, biokinetikus, dokter of ander persoon in die mediese beroep verwys moet word. Dit geskied binne die netwerk wat instrukteurs vir hulself opbou. Sodoende word hul aangewese rol binne die Pilates-veld vervul en tree hulle nie buite hul vaardigheids-gebied op nie.
Hy voeg by dat die kursusse by sy studios op ’n hoë vlak gerig is en dat kursusfasiliteerders ’n breë kennis en begrip buite die Pilates-konteks het wat hul in staat stel om vrae en navrae met outoriteit te beantwoord. Die kursusse wat by die Pretoria-studio aangebied word, word byvoorbeeld deur ’n mediese dokter bestuur terwyl Kaapstad-studente baat by Raaff se kennis van biokinetika.
“Om te voldoen aan streng akademiese onderrig standaarde, bied JRA ‘n uitkomsgebaseerde leerplan aan. Al die kursusse is in module-formaat en elke module kombineer teoretiese kennis met praktiese ervaring vir ’n volledige leerervaring,” sê hy. “Die module-formaat voldoen aan die vereistes van werkende mense en stel ook diegene met vooraf-kennis of –ervaring in staat om opleiding op die gepaste vlak te begin.”
“Die eerste twee kursuseenhede fokus op mat oefeninge. Die intreevlak module is ontwerp om liggaamsbewustheid te verbeter en stel die ses basiese beginsels van Pilates bekend. Die tweede module bou op die grondslag van liggaamstabiliteit wat reeds gevestig is en vorder in die rigting van meer funksionele uitdagings. Studente leer spesifieke onderrigmetodes, gevorderde evalueringstegnieke en meer komplekse bewegings,” sê hy.
Die derde kursus berei studente voor om ’n wye reeks oefeninge aan te bied wat op die Reformer uitgevoer word, die primêre weerstandsapparaat wat in Pilates gebruik word. Die kursus sluit deeglike veiligheids-, opstellings- en sorgafdelings in asook die gebruik van Reformer-bybehore soos die jump board, en die long box en short box.
Studente vorder dan na die Trapeze- of Cadillac-kursus, en leer tegnieke aan wat voordelig kan wees vir ligte rehabilitasie of die kondisionering vir atletiese prestasie. Hierdie kursus sluit ook werk in met die Stability Chair vir krag sowel as rehabilitasie oefening, asook die vier tipes Barrels in oefeninge wat ontwerp is om ruggraatsoepelheid te verhoog en liggaamshouding te verbeter.
“’n Praktiese komponent moet voltooi word na afloop van elke kursus. Dit bestaan uit vier aspekte,” sê Raaff,
- Waarneming: gekwalifiseerde instrukteurs word in werkstyd dopgehou
- Praktiese oefening: bemeester self die oefeninge deur herhaling
- Praktiese onderrig: toepassing van pas aangeleerde onderrigvaardighede
- Vakleerlingskap/Internskap: begin ’n nuwe loopbaanrigting onder toesig.”
“Die meeste van die voltydse kursuseenhede is twee tot drie dae lank en elke kursuseenheid word voltooi met ’n uur lange teoretiese eksamen en ’n uur lange praktiese eksamen,” sê hy.
Met voltooiing van die maatskappy se alomvattende sertifiseringskursusse vir Pilates-instrukteurs, mag gegradueerdes registreer by die SA Directory of Certified Pilates Instructors (www.pilatesinfo.co.za).
Vir verdere inligting, kontak James Raaff and Associates per telefoon by 021 465 2870 of per e-pos by info@jamesraaffandassociates.com.